
Engele werkswinkels
want van die wonderwêreld moet vertel word ...
Gert Janse van Rensburg bied van tyd tot tyd engele werkswinkels aan wat 'n lewensveranderende ervaring is:
Dit was 1996, oppad van Pretoria af Vrystaat toe dat Hy hom gestuur het. Langs die pad staan hy toe en duimgooi. Die dag toe God in my kar geklim het...
Ek was nogal haastig oppad gemeente toe met die wete dat ek nie rylopers, in die gevaarlike tye waarin ons leef, moet oplaai nie. Naby Heidelberg op die snelweg sien ek hom raak. Ek kon hom ook nie miskyk met sy lang rooi hare nie! Duim in die lig wag hy my in. Ek versnel effens want ek voel skuldig om verby te ry, my gedagtes dwing my om verby te ry. "Die man het dalk nood," neem my gewete oor. Toe ek verby ry praat intuïsie duidelik met my: "Jy moet omdraai en teruggaan, laai die man op!" Outomaties draai ek by die volgende brug af en ry terug, weer by hom verby in die teenoorgestelde rigting, by die volgende brug draai ek terug sodat ek weer verby hom moet ry.
Die besige N3 snelweg is doodstil, geen kar insig nie. Ek ry stadiger en stop langs hom.
"Kan ek jou 'n geleentheid gee?" wou ek weet.
Hy klim rustig in, sonder enige bagasie of enige reissak. 'n Rustige stilte kom saam met die rooikop man in my kar in.
"Waarheen gaan jy?" wou ek nuuskierig weet. Na 'n getalm antwoord hy: "Ek ry sommer net bietjie saam met jou."
Onder ander omstandighede sou ek my dadelik dood geskrik het. My gedagtes sou my al gewys het hoe lê ek vermoor langs die pad. Tog was dit op daardie stadium, 'n heel aanvaarbare antwoord. "Waar kom jy vandaan?" was my volgende vraag. Ek kon opmerk ek maak hom bietjie ongemaklik en was dadelik spyt oor die vraag.
"Nêrens eintlik nie, ry net saam met jou" glimlag hy in my rigting.
So sit hy in my kar, rooi hare wat oor sy skouers hang, vriendelike sagte oë en 'n rustigheid wat my oorspoel en saam met ons ry. Sonder om te praat weet ek die heeltyd hy is hier, sy teenwoordigheid oorweldigend, sy rustigheid kalmerend. Naby Villiers vra hy om af te klim, ek stop, hy groet vriendelik en gaan staan weer langs die pad. Ek ry verder en kyk terug in my tru-spieëtjie ... Niks ... Hy is weg. Daar is geen ander kar naby nie, die veld langs die pad is leeg, hy is net weg. Altans dis wat my gedagtes my wys maak. Dis die logiese antwoord en om die pad van minste weerstand te volg is dit die antwoord wat my gedagtes opdis.
My hele lewe het daardie dag onherroeplik verander. Ek het nie geweet wat regtig gebeur het nie. Het glad nie verstaan nie. Jare se teologiese opleiding, sondagskool, katkisasie, honderde eredienste en bybelstudies; niks het my vertel of voorberei op dit wat in 1996 met my oppad Vrystaat toe sou gebeur nie.
Dit het aanleiding gegee tot jare se studie en talle ander ervarings en nou wil ek daarvan vertel:
Kom hoor, luister, vra vrae en uiteindelik – kom verstaan iets van die grootheid van die kosmos waarin ons woon en wat ons dink ons so goed ken. Kom wees verras met die werklikheid van Engele.
Wie is hulle?
Wat is hulle?
Waarvandaan?
Hoekom is hulle hier?
Hoe raak dit ons bestaan?
Wat het al in die geskiedenis en selfs hier in ons midde gebeur as gevolg van die engele.
Begin leef en beleef ...
Die Engele ... 'n wonder wêreld waarbinne ons leef ...
