In gesprek met Abel

.

In gesprek met Abel

“We live in succession, in division, in part, in particles. Meantime within man is the soul of the whole; the wise silence; the universal beauty, to which every part and particle is equally related; the eternal ONE.” – Rev. Ralph Waldo Emerson.

Joernalis:  Glo jy nog in Jesus?

Abel:  Om die vraag te antwoord het ek nodig om ‘n kort agtergrond-skets te gee van wat ek glo en waar ek myself tuis vind. Ek sien myself as ‘n gnostiese Christen...

Joernalis:  ‘n Wat?

Abel:  ‘n Gnostiese Christen. Kom ek verduidelik. In Europa, en nou in Suid Afrika, is daar toenemende tekens van skeuring binne die ortodokse geledere. Ook binne die tradisie waarin ek groot geword het die Protestantisme is daar pole besig om te vorm. Aan die een kant is daar die fundamentalistiese siening van die Bybel, wat veral verteenwoordig word deur die charismatiese kerke. Teenoor hulle staan die liberaliste, wat meer neig tot ‘n innerlike weg en wat toenemend aanklank vind by die vroeë Christelike groepe (o.a. gnostici) wat nou deur navorsing herontdek word. Natuurlik vind hierdie twee groepe dit al moeiliker om met mekaar te gesels. Dan is daar ook nog ‘n derde groep kerke wat in die middel probeer oorleef.

Dit is verseker nie ‘n nuwe gebeurtenis nie, want juis hierdie verskeidenheid van geestelike strominge was teenwoordig in die tydperk aan die begin van ons jaartelling – waaruit die Christendom gebore is. Ons het egter tot onlangs bitter min gegewens gehad oor presies wat hierdie onderstromings behels het. Twee belangrike ontdekkings (in die afgelope dertig jaar) het egter ‘n keerpunt in ons begrip van die eerste eeu se Christene gebring. In 1947 was daar die ontdekking van die Dooie See rolle met ‘n magdom inligting oor die Joodse godsdiens en die agtergrond van die Christendom. In 1945 is daar in Egipte by Nag Hammadi ‘n verdere ontdekking gemaak deur ‘n Egiptenaar Muhammad Ali, wat ‘n kruik met vroeg Christelike kodekse (die vroeë vorm van gebinde boeke van perkament) en tekste gevind het. Dit het ‘n belangrike rol begin speel in die her-interpretasie van die vroeë Christendom. Vir die eerste keer in amper 2000 jaar is die vroeë Christendom self aan die woord en hoef ons hulle nie net te hoor vanuit die ortodokse groepe en ketterjagters nie.

Onder die Nag Hammadi geskrifte neem o.a. die herontdekte Evangelie van Thomas ‘n belangrike plek in. Sommige navorsers reken dit is selfs vroeër as die oudste evangelie (Markus), wat in die Nuwe Testament opgeneem is, geskrywe. Hierin word ‘n koninkryk van God verkondig wat al in hierdie wêreld bereik kan word. En dat God nie iewers daar buite is nie maar binne en rondom ons. En dat ons een kan word met God. Ook tussen die boeke en tekste wat gevind is by Nag Hammadi is die Evangelie van Filippus, wat Jesus baie anders voorstel as wat die evangelies in die Nuwe Testament dit doen. Byvoorbeeld die maagdelike geboorte en die vleeslike opstanding van Jesus word uitgewys as kinderlike denke en misverstand.

Hiermee saam is ander boeke soos die Geheime boek van Johannes, Evangelie van Waarheid, Boek van Thomas die Kampvegter, die briewe van Petrus aan Filippus en die Evangelie van die Egiptenare gevind. Dit is net ‘n paar titels van ‘n klomp insiggewende manuskripte. Vanuit hierdie nuwe inligting kon daar nou duidelik gesien word dat die Christendom nie net een homogene groep mense was nie, daar was duidelik verskillende groepe en daarmee saam verskillende sienings en oortuigings. Die twee hoof groeperings was die ortodoksie en gnostiese bewegings.

Wie was hierdie gnostiese groepe? Wel volgens Professor Elaine Pagels van Princeton Universiteit: “These Christians are now called Gnostics, from the Greek word gnosis, usually translated as ‘knowledge’. For as those who claim to know nothing about ultimate reality are called agnostic (literally, ‘not-knowing’), the person who does claim to know such things is called Gnostic (‘knowing’). But gnosis is not primarily rational knowledge. The Greek language distinguishes between scientific or reflective knowledge (‘He knows mathematics’) and knowing through observation or experience (‘He knows me’), which is gnosis. As the Gnostics use the term, we could translate it as ‘insight’, for gnosis involves an intuitive process of knowing oneself. And to know oneself, they claim, is to know human nature and human destiny ... Yet to know oneself, at the deepest level, is simultaneously to know God; this is the secret of gnosis.” (Elaine Pagels 1979:18)

Prof. Pagels verduidelik verder dat Gnostici geglo het dat elkeen van ons ‘n eerstehandse gnosis / kennis van God kan hê. Dat ons nie net deur tradisie en kerklike dogmas by God kan uitkom nie, maar dat elkeen van ons die Gees van God binne ons het en dus gesagvol kan getuig oor ons ervarings met God: “Valentinus (a Gnostic) and his followers answered: Whoever comes into direct, personal contact with the ‘Living One’. They argued that only one’s own experience offers the ultimate criterion of truth, taking precedence over all second-hand testimony and all tradition – even Gnostic tradition! They celebrated every form of creative invention as evidence that a person has become spiritually alive.”

Met ander woorde, Gnostiese Christene in die eerste en tweede eeu het geglo dat elke mens God kan beleef, sonder die begeleiding van priesters, biskoppe en die kerk. So ook sê Tau Malachi in sy boek Gnosis of the Cosmic Christ, “The religious person is, as yet, an outsider to the experience worshipped, while the mystic is an insider of the experience worshipped. This well defines the term Gnostic, which means one who knows trough direct experience or one who is a knower.”

Sodoende word jou direkte belewenis van die goddelike jou rigting-wyser en daarom is nuwe denke, maniere van uitdrukking, poësie, en nuwe belydenisse aangemoedig. Dit het natuurlik die ortodoksie baie kwaad gemaak, want hulle het geglo slegs die dissipels wat direkte kontak met Jesus van Nasaret gehad het, kon enige ‘waar’ uitsprake maak. Gnostici het egter geglo enigiemand wat die heilige gees ontvang het kan direk kommunikeer met die ‘Lewende Een’.

Die Gnostici het dan ook verskeie sienings gehad van Jesus van Nasaret, want jy kan direk self die goddelike beleef nes Jesus kon. Jesus was verseker ‘n wonderlike voorbeeld. Maar dat hy liggaamlik uit die dood opgestaan het, was nie noodwendig vir hulle waar nie. Jesus het gesterwe maar leef in elkeen se hart as die opgestaande Christus. Hierdie opgestaande Christus is ‘n geestelike belewenis wat ‘n realiteit in jou lewe word. Daarom sal die Gnostici sê Paulus is ‘n Gnostikus, want sy belewenisse van die Christus was deur drome en visioene.

Prof. Pagels sê dan ook, “The resurrection, they insisted, was not a unique event in the past: instead, it symbolized how Christ’s presence could be experienced in the present. What mattered was not literal seeing, but spiritual vision ... The disciples themselves often misunderstood what Jesus said: those who announced that their dead master had come back physically to life mistook a spiritual truth for an actual event. But the true disciple may never have seen the earthly Jesus, having been born at the wrong time, as Paul said of himself. Yet this physical disability may become a spiritual advantage: such persons, like Paul, may encounter Christ first on the level of inner experience.”

Joernalis:  Jy antwoord nie regtig my vraag nie. Hoe sien jy vir Jesus?

Abel:  Bedoel jy Jesus van Nasaret, die historiese figuur wat tussen die jare 6 v.C. en 30 n.C. in Israel, hoofsaaklik Galilea geleef het?

Joernalis:  Ja, ... wat vir ons ...

Abel:  Bedoel jy die Jesus wat voorgestel word as historiese figuur wat ook ‘n goddelike persoon was wat wonders kon doen, aarde toe gekom het met die doel om vir mense se sondes te sterwe en sodoende vir hulle ‘n ewige lewe na die dood te verseker?

Joernalis:  Ja.

Abel:  Ek wil net seker wees van wie praat ons. Want daar is ‘n verskil tussen die ‘historiese Jesus’ en die ‘verkondigde Christus’. Kom ek verduidelik dit so. Om te verstaan wie Jesus van Nasaret voor die sogenaamde Ortodoksie was, ja selfs voor die evangelies moet ons versigtig gaan kyk watter bronne ons tot ons beskikking het. Meeste mense weet dat die evangelie verhale nie direk gelyk gestel kan word aan die mondelinge / vertelde gebeure nie. Ek sê so omdat dit vandag reeds algemene kennis is dat die evangelies (Matteus, Markus, Lukas en Johannes) eers veertig jaar na Jesus se kruisiging geskrywe is. So ons kennis van die Jesus-gebeure is gebaseer op oor-vertellings en interpretasies wat oor ‘n hele klomp jare kom.

Dan moet ons ook erken dat daar ander kulture is wat soortgelyke verhale van maagdelike geboortes, opwekking van dooies, wonderwerke, en opstanding uit die dood vertel. Dit mite van die maagdelike geboorte byvoorbeeld, berus op ‘n primitiewe verstaan van die geboorteproses. Mense wat groot hoogtes bereik het, is vergoddelik en hulle sukses is verklaar as dat hulle pa’s gode was. Rondom Alexander die Grote, keiser Nero, Konstantyn, Socrates, Plato, Aristoteles en Pythagoras het sulke mites ontstaan. Talle Griekse heldefigure of gode (soos Hercules en Dionysos) is met maagdelike geboortes vereer.

Prof. Hansie Wolmarans verduidelik: “Mense van daardie tyd het gebrekkige kennis oor die geboorteproses gehad. Hulle het gedink ‘n vrou se bydrae is soos ‘n blompot waarin die manlike saad geplant word – daarom kon ‘n man nie onvrugbaar wees nie, net ‘n vrou. Die lewe van ‘n baba was dus gesetel in die saad van die man. Dit is onder andere die rede waarom geslagsregisters volgens die lyn van die man gedoen is. Om dus ‘n goddelike oorsprong vir Jesus en ander belangrike persone of figure aan te dui, moes die man uit die vergelyking weggelaat word, nie die vrou nie. In die Jesus-verhaal vervul die Heilige Gees die rol van die man. In die 18e eeu is uiteindelik vasgestel dat die vrou die eiersel verskaf, asook 50% van die genetiese materiaal. Wat my betref, het die wetenskaplike onderbou vir ‘n teologie van Jesus se goddelikheid, met hierdie insig in duie gestort. Die maagdelike geboorte storie berus dus op onkunde, asook ‘n negatiewe opvatting van die vrou, en is beslis nie meer geskik om idees oor Jesus se status oor te dra nie.”

Nog ‘n voorbeeld is dat as jy regtig die evangelies gaan lees jy sal moet erken dat Jesus nêrens daarop aanspraak maak dat hy die tweede persoon van die drie-eenheid is nie. Dit klink vir my of hy homself meer gesien het as ‘n gesalfde van God, maar verseker nie God self nie. Kom ons kyk nog verder ... Enigeen wat glo dat Jesus uit ‘n maagd gebore is of uit die dood opgestaan het, doen dit nie net op grond van preke nie maar begrond dit (hopelik!) op gegewens wat self uit die Bybel verkry word. Daarom is dit vir sommige mense vanselfsprekend dat die interpretasie wat deur die kerk aan hulle oorgelewer word, ook die enigste en korrekte een is. Maar is dit waar?

Is daar vandag eenstemmigheid oor hoe die Bybel (en ander erkende bronne) verstaan moet word? Nee, daar is geweldige verskille tussen navorsers. Aan die een kant is die Ortodoksie wat daarop aanspraak maak dat God bonatuurlike dinge in Jesus se lewe laat gebeur en dat sy maagdelike geboorte, opstanding en wonders werklik gebeur het. Aan die ander kant is daar groepe soos die Jesus Seminaar wat sê bg. dinge het nie gebeur soos dit beskryf is nie en dat hierdie verhale mitologiese interpretasies van Jesus se volgelinge na sy dood is. Wie is reg en wie is verkeerd? Albei het hulle professore en ‘bewyse’ in plek.

En so is daar baie soortgelyke parallelle met Jesus se verhaal. Wanneer ‘n mens Jesus en die god Dionysos met mekaar vergelyk, is daar ‘n hele paar interessante ooreenkomste. Dionysos se pa, die god Zeus, het ‘n verhouding aangeknoop met ‘n aardse prinses Semele. Net soos met Jesus word Dionysos se goddelikheid bevestig deur die wonders en tekens wat hy doen. Sowel Jesus as Dionysos word met brood en wyn geassosieer. Dit (brood en wyn) het in die misterie kultusse ‘n groot rol gespeel. Dionysos ondergaan ook soos Jesus ‘n kruisiging.

En wat nog meer interessant is, is dat die Dionysos mite gebaseer is op die godsdiens van Orfisme, wat reeds in die sesde eeu voor Christus bestaan het. In ‘n amulet uit die derde eeu n.C. vind ons ‘n uitbeelding van ‘n man wat hang aan ‘n kruis (insiggewend is dat die vroegste uitbeelding van Jesus aan die kruis eers uit die vyfde eeu n.C. dateer). Dit lyk presies soos Jesus aan die kruis, eers met ‘n nader kyk, lees jy die woorde “Orfeus word Bacchus”. My vriend Prof. Hansie Wolmarans verduidelik hierdie woorde met, “Dit beteken dat eenheid met Dionysos bereik kan word deur afsterwe van die liggaamlike (askese).”

En volgens tradisie verskyn Dionysos na sy dood aan mense, net soos Jesus na sy kruisiging. In die geval van sowel Jesus as Dionysos kry ons die mite van ‘n godheid wat deur mense verwerp is, wat dan weer sal terugkom om die ongelowiges te straf wat hom nie as god wou erken nie. Die ooreenkomste tussen Jesus en Dionysos wys vir ons baie duidelik dat die Bybelse skrywers (in die eerste eeu n.C.) geleen het by reeds bestaande mites.

Wie glo ons nou? Net die Jesus verhaal of ook die ander verhale? En op grond van wat kies ons? Wat vir my egter sin maak is dat ek besef het dat die Bybel deur mense geskrywe is (met motiewe en agendas). Dit was egter mense wat in ‘n verhouding met God gestaan het, daarom getuig hulle van daardie verhouding. Die Bybel vorm vir baie die basis-dokument, vir my geld tekste soos die Tomas Evangelie en ander sogenaamde apokriewe geskrifte egter ook. As ons hierdie geskrifte lees moet ons ingelig wees oor die wêreld waarin daardie bronne tot stand gekom het. Ons moet onthou dat dit weerspieël kulture, gebruike en kommunikasie waarvan ons nie oorspronklik deel was nie. So ons afleidings moet nederig gemaak word, ook as ons praat oor Jesus van Nasaret.

Joernalis:  Ek verstaan dat daar baie opinies is. Maar kom dit nie maar alles neer op geloof nie? En dat ons moet glo soos ‘n kind...

Abel:  Wat moet ons glo? Wie moet ons glo? Ek meen selfs ‘n kind word van vroegs af geleer jy kan nie almal glo nie. Daar is ook, wat ek noem globale geloof-sisteme, soos byvoorbeeld: “vroue is ondergeskik aan mans” of “swart mense is skelms” of “om ‘n maagd te verkrag sal jou genees van vigs”. Met hierdie geloof-sisteem is dit dus geen wonder dat mans vrouens hanteer as minderes nie, of dat wit mense swart mense wantrou, of dat vele kinders verkrag word nie.

Daar is baie globale “waarhede” wat nie noodwendig gerond is op die realiteit nie – wat onwaar is, maar omdat dit ‘n gemeenskaplike oortuiging is, word dit sonder kritiek aanvaar. Dink maar aan Copernicus wat (1543) teen die algemeen aanvaarde geloof van sy tyd gegaan het deur te sê dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie. Want in daardie tyd was dit vas geglo dat die son om die aarde wentel. Thomas Kuhn sê in sy boek The structure of scientific revolutions dat al sulke deurbrake soos die van Copernicus gepaard gaan met ongelooflike weerstand. Want enige groot deurbrake bring nuwe maniere van dink en wees na vore, en ons weet hoe bang mense vir verandering is.

Dink maar net aan die ongelooflike veranderings wat die kiem-teorie gebring het. Mense het baie bygelowe gehad oor moeders en kinders wat by geboorte gesterf het, en daar was baie. Ook was daar meer soldate wat tydens oorloë dood is aan klein en septiese wonde as soldate wat weens vyandige vuur gesterf het. Hoekom? Die rede was, soos by die geboortes, dat as die vroedvroue en verpleegsters en verpleërs nie hulle hande gewas het nie, die moeders en soldate gesterf het weens onsigbare kieme. Die oomblik egter toe die kiem-teorie aanvaar is het dit alles verander.

Daarom moet jy en ek krities en evaluerend omgaan met alle globale, kultuur en self ‘waarhede’, want dit bepaal hoe ons die wêreld sien en beleef. So dikwels word ons mislei om te glo dat ons omstandighede ons lewens bepaal en vorm – ek dink daar is nie ‘n groter leuen as dit nie. Dit is nie die omstandighede wat ons lewens bepaal nie, dit is wat ons glo die omstandighede beteken, wat bepalend is. Elke keuse wat ons maak word bepaal deur wat ons glo oor ‘n spesifieke saak. Ons het al geleer dat as iemand glo dat hy nie talentvol is nie, sal hy dit aan homself bewys en waar maak. En onthou, wat jy glo word ‘n self-vervullende profesie. Die probleem met sulke gelowe is, dat dit jou beperk in jou keuse vir wie en wat jy wil wees. So as jy sê ‘n mens moet net glo, wat bedoel jy?

Joernalis:  Ek bedoel dat sekere dinge onverklaarbaar is en dat daar nooit bewyse kan wees wat dit onteenseglik bewys nie, maar tog bestaan dit. Soos die hemel.

Abel:  ... Die hemel, waarop baseer jy jou geloof-konstruksie van die hemel? En waar kry jy jou blinde geloof in hierdie sogenaamde kenners van die hemel? Wie het jou daarvan vertel? En waar het ‘hulle’ dit gehoor?

Joernalis:  Dit staan in die Bybel.

Abel:  Waar kom die Bybel, soos ons dit vandag ken, vandaan? Wie het besluit watter boeke kom in die Bybel en watter val uit? Jy weet van die apokriewe geskrifte wat nie in ons Bybel opgeneem is nie? Wie het dit besluit? En wat maak jy met die nuwe Nag Hammadi geskrifte? En al die verskillende vertalings met hulle verskillende implikasies? Kom ek illustreer dit met ‘n voorbeeld.

Wel daar is bevind dat Matteus en Lukas nie net by Markus afgeskryf het nie, maar dat hulle ook uit ‘n ander bron gesamentlik materiaal oorgeneem het. Dit lyk dus asof altwee toegang gehad het tot dieselfde bron. Niemand het egter hierdie bron nie, maar omdat daar woordelikse ooreenstemmings is in Matteus en Lukas-evangelies (wat nie in Markus voorkom nie), kon die bron denkbeeldig saamgestel word en is toe genoem die Q-bron. Wat was hierdie Q? Geleerdes noem hierdie bron “Q”, ‘n afkorting van die Duitse woord “Quelle” of “Bron”. Dit word rondom 50 n.C. dateer, het in Galilea ontstaan, en bevat die vroegste getuienis rondom Jesus.

Die vroegste bronne is die geskrifte van Paulus, gevolg deur die Sinoptiese Evangelies (Markus, Matteus en Lukas). Paulus het tussen 50 en 64 n.C. geskryf. Markus, die oudste evangelie, is in 65-75 n.C. geskryf. Matteus het in die vroeë tagtigerjare n.C. ontstaan. Lukas is tussen 90-95 n.C. geskryf. Matteus het omtrent 90% van Markus se materiaal oorgeneem, terwyl Lukas net omtrent 50% verreken het. M.a.w. die Nuwe Testament soos jy hom vandag voor jou het, bestaan ook uit aangelaste en bygevoegde dele en is glad nie ‘n dokument wat uit die hemel geval het nie. Wie het die Q-bron bepaal? Stem almal saam? Stem jy met die teorie saam? Weet jy wat die teorie alles behels? Wat is die implikasies van Q?

My punt: meeste mense is te lui om vir hulself te dink en dan aanvaar hulle wat die sg. ‘geleerdes’ sê. Miskien is die geleerdes reg, maar wat as hulle nie is nie? En natuurlik weet ons vandag die geleerdes stem nie saam nie. So watter geleerdes gaan ons glo? Die Woord van God is verseker nie ‘n geheel-eenheid wat oorgelewer is vanuit die hand van die Engele nie. Ons moet kyk na die wêreld vanwaar die geskrifte kom, ons moet evalueer wat hulle geglo het (wat was hulle globale geloof-sisteme) wat hulle aanvaar het as waar, en wat vandag dalk nie meer so gesien word nie. Ons moet soek, leer en bevraagteken. Jy het nie bevraagteken nie want jy het nie van beter geweet nie. Wat is jou verskoning nou?

Joernalis:  Alles is so ingewikkeld. Wat het geword van net glo soos ‘n kind? Ja oukei, ek weet wat jy gaan sê, maar ek het nie die tyd om navorsing te doen of heeltyd alles te bevraagteken nie.

Abel:  So daarom wil jy iemand hê wat vir jou sê wat om te glo en hoekom?

Joernalis:  So iets, ja.

Abel:  Dink jy nie dit is die rede waarom die wêreld in die toestand is wat hy is nie? Want mense is te lui om vir hulself te dink en dan wag hulle vir ander om vir hulle te sê wat om te glo. Onthou jy vir Hitler? Onthou jy Apartheid? Wanneer gaan ons leer? Ek wil jou regtig nie verwar of deurmekaar maak nie maar ek dink dit is tyd dat ons eerlik en eerstehands begin dink oor wie ons is en wat ons glo. En die oomblik wat ons dit begin doen is ons terug by die Gnostici. Want dit is presies wat die Gnostici sê, leer jouself ken en dan sal jy die goddelike leer ken. En dit sal jou help om eerstehands / direk God te ervaar en deel te maak van jou elke dag lewe. Dit in ‘n neutedop is hoekom ek nie langer net saam met die stroom kan gaan nie, hoekom ek moet uitskreeu, “Dink vir jouself!”