Meer oor Renaissance

By Renaissance wil ons die pad van die mistisie en Gnostisie loop. Daar word ook uit ander godsdienste en filosofieë geput, want waarheid is waarheid, watter baadjie dit ook al mag dra.

Omdat Renaissance 'n familie van oop, denkende en eerlike reisigers is, is dit vir ons belangrik om gereeld met mekaar te praat. Ons is nie bang om oor moeilike sake te gesels nie of om saam te groei nie. Dit beteken natuurlik dat ons nooit finale antwoorde kan hê nie, want groei impliseer ontdekking en ontdekking impliseer groei. Renaissance wil 'n veilige ruimte wees vir almal wat soekende is. Ons weet dat alle tradisies waarheid bevat en daarom probeer ons om met eerbied en respek te haal vanuit al die geestelike tradisies wat ons kan help op ons reis. Ons waardes word daarom gekenmerk deur openheid, eerlikheid, liefde, nederigheid, en om nie te veroordeel nie.

Inderwaarheid, indien Renaissance die ware onderliggende interpretasie van Christus se leringe (in teenstelling met die letterlike interpretasies van die kerk) met integriteit wil bevorder, is daar geen ander pad nie. En die vertrekpunt van Christus se boodskap, waarom al Sy ander leringe wentel, is dat die "Koninkryk van God binne in julle is". Dit is die "blye tyding" wat Hy gebring het, en was ook die invalshoek wat die Gnostisie gevolg het. Die oorkoepelende geestelike doelwit is dan om die bewussyn te verhoog tot op die vlak van die Koninkryk, want die Koninkryk van God is nie 'n plek nie maar 'n bepaalde verhewe vlak van bewussyn. "Soos jy in jou hart dink, so is jy." Bewussyn van die Koninkryk in jou is die teenwoordigheid van die Christus-bewussyn (God) in jou, jou Hoër Self, en dit is die einde van die aardse pad!

Hierbo verwys ons na "die vertrekpunt van Christus se boodskap, waarom al sy ander leringe wentel". Volgens Renaissance dien al Christus se ander leringe as riglyne vir die "reis" om in te beweeg na die kern toe – die Koninkryk of die innerlike Lig. Op ons reis besef ons ook dat almal reisigers is, dat ons almal EEN is. "In Hom leef ons, beweeg ons, en is ons." Dit stel op 'n ander manier die eenheid met God soos in die Johannes Evangelie uitgespel. As die konsep van eenheid deeglik besef word, maak Christus se leringe soos "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself" en die Goue Reël baie deeglik sin, want wat ons ookal aan ander doen, doen ons eintlik aan ons self.

Webwerf navigasie

Voorblad
Waarheen en waarvandaan
Meer oor Renaissance

Pretoria

Kontak besonderhede
Eredienste in Pretoria
Projekte

Kaapstad

Kontak besonderhede
Eredienste in Kaapstad

Leraars

Ds Gert Janse van Rensburg (Pretoria)
Dr Abel Pienaar (Pretoria)
Ds Terblanche Jordaan (Kaapstad)
Ds Renier Cronje (Kaapstad)

Publikasies

Nuusbrief
E-boeke
Oudiovisueel

Artikels

In gesprek met Abel
Engele werkswinkels

Eksterne skakels

Aanbevole webtuistes