Ons almal se God

Soos gepubliseer in Beeld

.

Ons almal se God

Soos gepubliseer in Beeld

‘n Nuwe boek oor geloofskwessies het pas verskyn wat na verwagting heelwat opslae gaan maak. Rothea Kleynhans het met die skrywer gesels.

Afrikaners is huiwerig om “uit die kas te klim” oor spirituele kwessies, sê dr. Abel Pienaar, ‘n eertydse NG predikant. Hy is tans direkteur van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit (SES), wat sedert Januarie mense aan die gons het. Sy boek, Saam op Soek na God, het pas verskyn.

‘n Al hoe groter wordende aantal Afrikaanssprekendes wat in die tradisionele Christelike tradisie grootgeword het, is volgens hom besig om afskeid te neem van die dogmas wat aan hulle as die absolute waarheid voorgehou is. Hierdie afskeid impliseer egter nie dat hulle ongelowig word nie.

“Baie mense is kerklos en kerkloos, maar dit beteken nie hulle is geloofloos nie. Sedert my bedanking uit die NG Kerk in 2006 is ek deur stoere Afrikaners oorval wat verlig is dat hulle nie heeltemal ‘mal’ is nie – dat daar ook ander is wat dink die gedagte van ‘n hemel en hel is verregaande; dat Jesus se hemelvaart wetenskaplik onverantwoordbaar is en dat dit biologies onmoontlik is dat Maria as maagd die lewe kon skenk.

“Boonop koop baie mense nie meer die vrees en skuld wat godsdiens in hul wakker maak nie.”

Pienaar vertel in sy boek van sy eie vrese vir verwerping nadat dit bekend geword het dat hy uit die NG Kerk gaan bedank en van die uiteenlopende reaksies wat hy daarop ontvang het:
“Ons is baie bly om te lees dat nog iemand (vernaamlik ‘n NG predikant) die moed gehad het om eerlik en opreg na hierdie ding van godsdiens te kyk.”
“Wie dink jy is jy!!!!! God sal jou hiervoor straf, jy kan dankbaar wees daar is nie meer iets soos stenigings of brandstapels nie!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! Ek hoop jy kry niemand vir berading OOIT nie, want hierdie snert sal mense nie help nie?.?.?.?net verder op die pad na die hel stuur!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!”

In ‘n gemaklike styl en informele taal voer Pienaar in die boek as’t ware ‘n tweegesprek met die leser oor lewensvrae.

Hy skryf: “God is nie meer vir my ‘n persoon nie. Hy’s meer soos ‘n energie – die energie van Liefde. God is groter as geloof en daar is plek vir almal se gelowe – die Christene, Boeddhiste, Hindoes, ensovoorts. God is ons almal se God.

“Jesus is vir my soos Gandhi en Boeddha. Hulle is mense wat iets gesnap het van God se grootheid en liefde en hulle was bereid om te sterf vir dít waarin hulle geglo het.

“Ek glo nie aan ‘n fisiese hemel of hel nie. Hel is nóú, dis die keuses wat ons maak wat nie uit liefde is nie. Op die ou einde gaan ons almal terug na God toe.”
Die gedagte om ‘n forum te skep waar kwaliteitsgesprekke oor spiritualiteit gevoer kan word, spook al ‘n jaar of wat by Pienaar. ‘n Dagkonferensie oor eietydse spiritualiteit wat in Oktober verlede jaar in Pretoria gehou is, was die finale deurslag. Tóé het hy geweet die tyd is nou reg.

Meer as honderd mense van die mees uiteenlopende beskouings het die dag in groot vrede saam oor spiritualiteit besin. Pienaar het wel dreigoproepe voor die tyd ontvang (“Ons hou jou dop!”) en ‘n paar NG predikante wat reeds vir die konferensie ingeskryf was, het onttrek.

Die Kapenaars het ‘n maand gelede aan die beurt gekom met ‘n dagkonferensie in Durbanville. Prof. Wille Esterhuyse was een van die sprekers. Hy het gepraat oor Genesis en Eksodus wat volgens hom bloot singewende mites met ‘n retrospektiewe teologie is.

Nog ‘n konferensie word vir 23 Oktober in Pretoria by die Groenkloof-kampus beplan. Die tema vir hierdie konferensie is “Soeke na ‘n eietydse verstaan van God”.

Pienaar het op 2 Maart in ‘n brief aan Beeld geskryf: “Dit is min dat ek twee weke ná mekaar die koerant oopmaak en artikels lees wat die essensie van die mens se soeke na sin so mooi vasva... vrae soos wat sin en betekenis aan die lewe gee, kan nie meer stilgemaak word met ‘Jesus het jou lief’ nie.”

Artikels vroeër vanjaar in By bevestig die klaarblyklik groterwordende tendens van “anders” kyk. Só skryf prof. Bernard Lategan in “‘n Nuwe Humanisme” (20 Februarie) dat ons in ‘n tyd leef waar mense nie meer tevrede is met die ou antwoorde nie.

Hy sê ons moet soek na ‘n nuwe verstaan van hoekom ons hier is en dat ons moet besef ons is deel van ‘n omvattende “netwerk van lewe”. (Binne die Oosterse tradisies word hierdie beginsel al jare lank met woorde soos “inter-being” en “interconnectedness” beskryf.)

Prof. Sakkie Spangenberg het by hierdie gedagte aangesluit in sy artikel “As ons hiér leef” (27 Februarie): “Wie dus wil uitwerk hoe daar tans geleef behoort te word, kan hierdie verweefdheid nie ignoreer nie.”

Hy skryf voorts Christene staan, wat die “nuwe” humanisme betref, voor groot uitdagings. Hulle sal die ortodokse leerstellings grondig moet hersien en die imperialistiese teologiese paradigma vaarwel moet toeroep. Religie moet vervang word deur aardsgerigtheid, sinvolle daaglikse ervaring en verantwoordelike betrokkenheid by mense en gebeurtenisse.

Hierop volg prof. Julian Müller met “Dít wat ons nié dink” (6 Maart). Hy sê hy het onherroeplik aanbeweeg en is nou gefassineer en geïnspireer deur nuwe denkraamwerke oor God.

“In kerklike dogma is allerhande filosofiese eienskappe aan God toegedig, maar die Bybel praat bloot van God as Liefde en Gees.”

Nadat talle Afrikaanse mense die afgelope jare (soos uit mediadebatte blyk) hul tradisionele geestelike sienings agtergelaat het, probeer die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit (SES) nou kyk wat vul die leemte wat deur dié tradisionele sienings gelaat is.

“Ek wil ‘n ruimte skep waar soekers veilig voel om vrae te vra. Dit is die wegspringplek vir mense wat eerlik wil omgaan met hul werklikheid. En hoe meer ons saam gesels en soek, hoe nader groei ons aan mekaar.”

Die warm debatte verlede jaar oor die saamwoonkwessie in die NG Kerk en godsdiens in skole het getoon dat jare lange gebruike bevraagteken word en dat nuwe maniere van doen gesoek word.

‘n Verrassende brief in By van 13 Maart vanjaar was dié van Dries Terblanche. Hy skryf: “Dit is bevrydend om te besef dat daar ook ‘n ateïstiese spiritualiteit kan wees. Ons het die foutiewe siening dat net godsdiens spiritualiteit kan behels.

“Ek maak nie daarop aanspraak dat ek weet God bestaan nie, maar ek glo dat Hy nie bestaan nie.
“Of ‘n mens in God glo of nie, jy word gekonfronteer met die oneindige, die ewige, die absolute en met jouself. Vir my is die natuur voldoende, die waarheid voldoende en my eie sterflikheid voldoende.”

Die pad vorentoe is vir Pienaar onseker. Hy weet wel: “Ek is ‘n Afrikaner en ek wil híér, saam met my eie mense, na ‘n eietydse spiritualiteit soek. As geloof nie meer in die praktyk werk nie, moet ons ‘n ander oplossing kry.

“My vertrekpunt is: Ek is agnosties; ek het ‘n vermoede dat daar iets méér as die realiteit om ons is, maar ek is onseker. Wat ek wel van seker is, is dat die manier waarop ons tans oor die goddelike praat, onvoldoende is. Nuwe kennis vereis dat denke aangepas moet word.

“Oud en jonk klop gereeld by my praktyk aan op soek na ‘n eietydse verstaan van die goddelike.

“Dis mense soos ‘n NG predikant van Centurion wat sê: ‘Ek glo van harte God is besig om Hom in hierdie dae op ‘n gans ‘nuwe’ manier aan ons te openbaar, omdat die tyd daarvoor reg is. Wat, hoe en waar weet ek nog nie.’

“‘n Bejaarde het gesukkel om God haar ‘Vader’ te noem omdat sy as kind deur haar pa en oom gemolesteer is. Ná vele besoeke kon sy bevrydend verklaar dat sy God eerder as ‘n ‘Moeder’ sien. Só het haar pad van heling begin.

“Hierdie mense lééf ‘n eietydse spiritualiteit,” sê Pienaar. “Die geloof in ‘n teïstiese God wat op Sy troon iewers bo in die wolke sit en besluit om mense op grond van hul geloof hemel of hel toe te stuur, is vir baie soekende mense nie meer sinvol nie.

“Hulle begin anders dink oor die lewe ná die dood en begin soek na alternatiewe idees oor die lewe hier en nou.”

Die uitreiking van ‘n dokumentêre DVD, Saam op soek na God, in Februarie is een van SES se onlangse projekte. Pienaar het gewone mense, bekendes, gelowiges, ongelowiges, New Agers en Wicca-hekse gaan vra om oor hul oortuigings en geloof te praat.

Steve Hofmeyr het byvoorbeeld gesê hy sien twee groepe mense om hom: die “sekeres” oor God en die “onsekeres”. Hy skaar hom by die onsekeres, by dié wat nog soek.

Prof. Hansie Wolmarans, hoof van die departement Griekse en Latynse studies aan die Universteit van Johannesburg wat een van die stigterslede van SES is, het geen twyfel dat baie Afrikaners reg is om konstruktief te begin praat oor ‘n eietydse spiritualiteit wat in die praktyk tot vergestalting kan kom nie.

“Gelukkig kry ‘n mens baie ‘oop’ Afrikaners.
Dit is mense wat bereid is om na jou standpunt te luister en daaroor te redeneer sonder om jou te etiketteer.
“Dit is mense wat gister se bagasie afgeskud het (soos: om met die helm gebore te wees, gesprekke met die dooies, vrees vir intellek, patriargie, Gertges se medisyne, Siener van Rensburg, Afrikaner-uitverkorenheid, mirakels, Goddelike ingryping, teïsme, trippel-ses, en die k-woord).

“Dit is mense wat oop is vir die wetenskap (evolusie en die Bybel as menseproduk). Dit is hulle wat die mensheid van die ‘ander’ (gays, swartes, ateïste, vroue, kinders) volledig aanvaar.

“Dit is mense wat te midde van die swartgallige negatiwiteit oor die nuwe Suid-Afrika steeds rede vind om fees te vier oor die lewe hier en nou.

“Dit is diesulkes wat op die voorpunt is van ‘n nuwe spiritualiteit, met wie ek saam in die loopgrawe wil staan om vir ‘n nuwe toekoms in Suid-Afrika te baklei.”