Ds. Terblanche Jordaan (Kaapstad)

Ek is op 'n sendingstasie gebore in Verre Noord Transvaal, van graad 1 af in 'n skoolkoshuis omrede die naaste dorp 150km (op 'n slegte grondpad) was. Ek het Teologie geswot op Tukkies, nagraads in Amsterdam en UNISA. 'n Hele klompie jare was ek predikant in die NGK en in 2001 het ek met Kruiskerk begin as basis: God – in plaas van Godsdiens en vandag het ek my plek gevind in Renaissance waar almal welkom is en daar selfs plek is vir my.
Miskien sou dit beïndruk om te hoor dat ek 'n kommersiële vlieglisensie het of dat ek drie plays al geskryf en die regie gedoen het en dat my laaste play die eerste Afrikaanse play was wat in Westside Londen gespeel het met Brümilda van Rensburg, Helene Lombard en Gavin van der Berg of dat ek 'n band gehad het en etlike liedjies self geskryf en opgevoer het.
... maar soos ek sê – dit alles sê niks van my as mens, van my as siel met 'n lyf vir vandag ...
+ want kan 'n CV vir jou iets sê hoe dit voel om jou broer van 24 vas te hou op 13 Maart 1993 as hy in jou arms sterf
+ kan 'n CV jou iets vertel van ek wat pa geword het op 25 Augustus 1998 en vir ure met my seun in my arms op 'n hospitaalvloer gesit en tjank het
+ sal 'n CV jou vertel van die soet en die suur, die ekstase en my donkerkant, die goeie en slegte van my wat van die intellek 'n siel moes maak ...?
nee wat ... sê maar net: "Terblanche Jordaan – 15 Julie 1963."
