Waarvandaan en Waarheen?

In my bediening in verskeie gemeentes oor jare heen het ek agtergekom dat daar iets drasties skort met ons geloof en met ons kerk. Lidmate aanbid en kom gereeld kerk toe maar baie weet nie eens wie of wat hulle aanbid nie. Dogma en leuens het normale lidmate ver verwyder vanaf die God wat ons aanbid en soek in die kerk en in onsself. Dit het tot gevolg dat lidmate al meer soekend raak en as hulle nie antwoorde kry nie raak hulle heeltemal kerkloos.

Paulus en ander tekste is dit eens dat mens 'n verantwoordelikheid het om aan die liggaam van die Christus – die gemeente, te behoort. Enige gemeente wat bestaan op grond van vooroordeel of veroordeling kan en mag nooit die liggaam van Christus genoem word nie, want Christus was nooit bevooroordeeld nie. Talle gemeentes en kerke bestaan tot vandag toe nog op grond van hul selektiwiteit en boksies waarin hulle mense plaas. As jy nie inpas nie of anders is, is jy nie welkom nie. Die kern van die boodskap van Christus is:
+   Matteus 6:33, "Soek allereers die koninkryk van God en sy geregtigheid en al die ander dinge sal vir julle bygevoeg word."
Hierdie kern word glad nie verstaan nie en die koninkryk van God word iets gemaak wat dit glad nie is nie en ook nooit bedoel was om te wees nie. Van hierdie koninkryk sê Christus die volgende:
+   Lukas 17:21, "... want die koninkryk van God is binne-in julle."

Dit het ons genoop om 'n alternatief daar te stel. 'n Liggaam wat nie veroordelend is nie, wat spirituele eenwording met God soek deur die soeke en ontdekking van die koninkryk van God en dus God-self binne-in ons. Die gemeente is op reis en wil deur die regte atmosfeer en boodskap, lidmate begelei en toerus met ware gnosis (kennis) tot geestelike en spirituele ontmoeting en eenwording met God – om weer te word wat jy is: homo christos.

Dit het nie oornag gebeur nie. Na jare se ernstige soeke, studie en navorsing; besoeke aan honderde gemeentes; ernstige gebed; gesprekke met talle lidmate en nie-lidmate van verskeie kerke en natuurlik: in oorleg met God, die Christus, die Engele en onder die leiding van die Heilige Gees het Renaissance Christelike Gemeente vorm begin aanneem.

Dit is nou meer as drie jaar na die amptelike stigting van die gemeente in September 2004. Die eerste jare was nie maklik nie maar met dankbare harte kan ons terugkyk en God se teenwoordigheid in die werk duidelik sien; veral in die tuiskoms van baie soekende lidmate. Foute is gemaak en sal nog gemaak word maar in die opregte spirituele soeke na God het ons iets besef:

Hoe meer jy besef dat jy deel van God is omdat hy binne jou is, hoe intenser raak die belewenis van die onvoorwaardelike liefde en vergifnis van God in ons lewens; hoe stiller wil jy word in daardie grootheid; hoe mooier word elke musieknoot; hoe dieper elke woord; hoe nader kom die engele; hoe wonderliker word die wonder van die Christus wat jou wakker maak tot kindskap
Want:
Jou siel word groter deur jou spirituele belewenis en eenwording met God deur jou geestelike konneksie met God; jou bewussyn, emosies en liggaam kan nou hul regte plek inneem: In diens van God.

Dit is ons reis vorentoe: Geestelik spiritueel in eenheid met God.

Webwerf navigasie

Voorblad
Waarheen en waarvandaan
Meer oor Renaissance

Pretoria

Kontak besonderhede
Eredienste in Pretoria
Projekte

Kaapstad

Kontak besonderhede
Eredienste in Kaapstad

Leraars

Ds Gert Janse van Rensburg (Pretoria)
Dr Abel Pienaar (Pretoria)
Ds Terblanche Jordaan (Kaapstad)
Ds Renier Cronje (Kaapstad)

Publikasies

Nuusbrief
E-boeke
Oudiovisueel

Artikels

In gesprek met Abel
Engele werkswinkels

Eksterne skakels

Aanbevole webtuistes