Dogma Skep Vervreemding

Prof. Hansie Wolmarans    Ook hier op video

Die heel oudste geloofsbelydenis binne ons eie tradisie vind ons in Deuteronomium 6:4. Tot vandag toe, soggens en saans, word dit deur Joodse gelowiges herhaal. Dit word die shemah Israel! genoem. “Luister Israel, die Here ons God is Een.” In die Bybel self, ook in die Nuwe Testament, word dit ‘n paar keer herhaal, maar die betekenis is onstabiel en die formule word telkens verskillend vertaal. In Jakobus 2:19 lees ons “Glo jy dat God een is? Goed so. Ook die demone glo dit, en hulle bewe.” Oorspronklik beteken die belydenis waarskynlik iets soos net die Here is ons God. Dié God is uniek, aan ons kant, en verhewe bó al die ander gode.

Binne Jakobus 2 word dit in ‘n verskillende konteks gebruik. Die skrywer gee dit ‘n nuwe inhoud. Verse 15-16 skets die situasie: “As ‘n broer of ‘n suster sonder klere en daaglikse kos is, en een van julle sê vir hulle, ‘Gaan in vrede, word warm en word versadig,’ maar julle gee nie vir hulle wat die liggaam nodig het nie, wat help dit?” Die konteks is dié van vervreemding en dit is die eintlike tema van Jakobus se brief: vervreemding, wanneer ons ons rûe draai op die lyding van ons medemense en net aan onsself dink. Die kloof tussen ons en ander.

Vervreemding is natuurlik baie breër as dit. Paulus in Romeine 7:19 formuleer dit in woorde wat selfs ‘n kind kan verstaan, “Die goeie wat ek wil, doen ek nie; maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.” Dit is wanneer ons nie gemaklik is met onsself nie, nie tuis is ons eie velle nie. Wanneer ons nie in kontak is met onsself nie, verloor ons ons konneksie met ander mense. Karl Marx het vervreemding definieer as dat gewone mense eienaarskap van produksiemiddele verloor het. Dit lei tot groot probleme binne ons samelewing. Ander filosowe, soos Hegel and Kant het die begrip uitgebrei. Ons ervaar byna elke sekonde hoe die natuur al hoe meer ‘n bedreiging word; dis asof ons vervreemd geraak het van die son en die wind en die weer. Mense verloor hulle lewensonderhoud en selfs hulle lewens in wolkbreuke en bosbrande.

Vir Jakobus het vervreemding te doen met hoe ons oor God dink. Die ou geloofsbelydenis, “God is een”, in die sin van, “aan ons kant; ons is meer besonders vir God as diere en plante en virusse en mense wat nie soos ons is nie”, is uitgedien. Jakobus koppel dit aan ‘n demoniese bygeloof. Jy sien, as jy so oor God dink, word jy teologies ontkoppel van jou medemense wat desperaat leef. Jy dink hulle verdien dit; hulle het iets gedoen wat hulle by God in onguns gebring het.

Jakobus argumenteer teen hierdie opvatting en ek gaan nie al sy argumente herhaal nie. Jy hoef nie godsdienstig te wees om te besef dis totaal onaanvaarbaar om nie na ons medemense in nood om te sien nie. Belangrik is dat hy met ‘n totaal nuwe interpretasie van hierdie ou geloofsbelydenis kom. Dit beteken nie God is uniek, aan ons kant, en vyandig teenoor hulle wat nie soos ons is nie. Vir Jakobus beteken dit dat God een is met alle mense. Met dié interpretasie hef hy die vervreemding op wat tussen mense bestaan. Om die waarheid te sê, Jakobus definieer ware godsdiens as om na weduwees en wese in hulle nood om te sien.

Die ou interpretasie van hierdie geloofsbelydenis is steeds springlewendig en destruktief. Onlangs het ‘n jong man wat koorsagtig glo sý siening van God is die een en die al, verwoesting gesaai. Hy het by ‘n supermark in Nieu-Seeland ingestap, ‘n mes van ‘n rak af gegryp, en sewe mense ernstig gewond. Die polisie het hom binne een minuut ná die aanval doodgeskiet, maar daar is baie wat hom nou as ‘n martelaar vereer.

Voor ons nou die vinger te lank wys na ander godsdienste, moet ons maar ook kyk na die vingers wat na ons toe terug wys. Ek het grootgeword met die idee dat my volk op een van ander manier deur God uitverkore is om die beskawing aan die suidelike punt van Afrika te vestig en dat God aan ons kant is. Ons weet hoe destruktief die ideologie was wat hieruit voortgevloei het.

En hierdie mentaliteit van: God is dié een vir my, vir ons – is aktief binne ons eie geloofstradisie. Vanaf die sestigerjare is daar talle studies gedoen, en dit gaan voort, oor Christene se opvattings oor sosiale verantwoordelikheid. Daar is dié wat baie sterk voel dat Jesus hulle persoonlike saligmaker is. Hulle klou fanaties vas aan leerstukke wat hulle as fundamenteel beskou: die maagdelike geboorte, die opstanding, die wederkoms, en die godheid van Jesus. Hulle glo vas dat hulle weergawe van die Christendom die enigste ware en werklike een is – wat nog te sê van ander godsdienste.

Terloops, nie ‘n enkele een van hierdie dogmas kom in Jakobus se brief voor nie, of is deur Jesus self verkondig nie. Mense wat só radikaal daaraan vasklou is geneigd om etnosentries te wees, homofobies, ontkenners van klimaatsverandering, polities konserwatief, volgelinge van outoritêre leiers (soos Donald Trump), teenstanders van inenting en word maklik op loop geneem met samesweringsteorieë – jy weet mos, dat mikroskyfies saam met die entstof in jou lyf ingeplant word – trippel-ses en alles wat daarmee gepaard gaan.

Indoktrinasie, dogmas, lei tot vervreemding. Miskien, as Jakobus vandag geleef het, sou hy geskryf het, “Watter nut het dit as jy dogmas het, maar nie werke nie? As ‘n medemens in eensaamheid wegkwyn, as dierespesies verdwyn omdat mense die see en die lug besoedel, en iemand sê, ‘Vrede vir jou. Word vertroos in jou eensaamheid. Laat die lug en die water suiwer word’ en jy doen niks om die situasie te verander nie, watter nut het dit?”

Die vraag is, watter rol kan ons spiritualiteit speel in die on-enig-heid wat ons binne onsself beleef, met ander mense, en die materiële wêreld? Daar is mense wat tyd maak om na te dink, of dit nou die vorm aanneem van meditasie, of gebed, of ‘n staptoer in die natuur – die Khoi San bereik ‘n veranderde bewussynstoestand deur beweging, deur ure aan mekaar te dans. Nou die dag lees ek ‘n artikel van Andrew Newberg in Psyche tydskrif. Hy doen navorsing op ‘n nuwe terrein wat as neuroteologie bekend staan. Dit verken die verhouding tussen die liggaam en religieuse ervarings. Newberg vind dat sodanige ervarings ons gevoel van vervreemding oorkom, en ons eenheid en verwantskap met onsself, ons omgewing, en ander mense versterk. Al hierdie vorme van spirituele ervaring het vyf elemente in gemeen:

  • Die eerste is ‘n intense belewenis van liefde, vreugde, en ekstase. Dit word aan die limbiese sisteem gekoppel, die brein se primêre emosionele sentrum.
  • Die tweede is ‘n ervaring van eenheid met God, die heelal en die res van die mensdom. Die Khoi San is só een met die diereryk, dat hulle net jag vir kos en verskoning aanbied wanneer hulle ‘n dier moet doodmaak. Dit word met die pariëtale lobbe geassosieer.
  • Die derde is ‘n ervaring van helderheid en insig. Die thalamus is verantwoordelik om die verskillende dele van die brein met mekaar te konnekteer en ons dinge te laat verstaan.
  • Vierdens kry mense oorgawe en berusting. Die frontale lobbe in die brein is hiervoor verantwoordelik.
  • Laastens ervaar mense dat hulle liggaamlik en geestelik gesonder voel. Die lewe kry sin en betekenis. Dit is weereens die frontale lobbe wat ons emosionele reaksie reguleer. Serotonien word afgeskei.

Vir my is spiritualiteit om die onderlinge verbondenheid van alle wesens te beleef en uit te leef. Ons kan ons daaglikse uitdagings en probleme kalm en beredeneerd hanteer. Iemand sny roekeloos voor jou in op die pad. Is jou eerste reaksie om hom agterna te sit, met ‘n risiko vir jouself en ander, en hom te konfronteer (jammer, ek het dit al gedoen) – of bly jy kalm met jou hartklop presies dieselfde as voor die gebeure?

My jongste dogter vertel my, sy staan naby ons huis by ‘n verkeerslig. Sy is in die baan wat net reguit oor kan ry. Links is ‘n baan waarin jy net kan links draai. Daar stop toe ‘n ou in ‘n dubbelkajuit met sulke ‘bull bars’ aan die voorkant. Sy weet toe sommer hy wil voor haar kom indruk. Sy hou toe die verkeersligte mooi dop en kry dit reg met haar klein Yarissie om voor hom in te ry. Maar toe moes sy nou haar arm by die venster uitdruk en ‘n middelvinger gooi. Hy sit haar toe agterna.

Sy sê toe sy in die truspieëltjie kyk, sien sy dié man sit die dubbelkajuit vol. En hy sit op haar stert, en sy weet as hy haar van die pad gaan afdruk, kom daar groot moeilikheid. Naby ons huis, voor die universiteit is daar ‘n sirkel. Sy ry toe al om die sirkel en dié man met sy groot bakkie kon toe nie die draai vat soos sy nie, en sit toe vas. Dis hoe sy weggekom het. Sy het ‘n dure les geleer. As ek saam met haar ry, en iets te sê het oor die taxi’s, sê sy “Pa, kalmeer! Dis nie die moeite werd nie.”

Geestesoefeninge om neurale interkonneksie te bevorder kan ons help om alle vorme van vervreemding te oorkom. ‘n Ontwikkelde mens, ‘n mensch as jy wil, is iemand wie se limbiese sisteem, pariëtale lobbe, thalamus en frontale lobbe in harmonie en eenheid met mekaar funksioneer.

Om fundamenteel een te wees beteken, meen ek, minstens die volgende:

  • Om nie toe te laat dat ons kommer en skuld en skaamte ons lewe oorheers nie.
  • Om mooi dinge te skep in ons tuine en ons leefruimtes.
  • Om die son en die maan en die sterre en die reën te geniet.
  • Om dinge te bevraagteken – alles wat ons in die kerk of die skool geleer het en dit wat nie sin maak nie, uit te gooi, en ons eie waarhede te vind.
  • Om te val en op te staan, keer op keer.
  • Om met diere en plante te praat.
  • Om ons koolstof voetspoor drasties te verminder.
  • Om te luister na stemme wat ons nie eintlik wil hoor nie.
  • Om vir almal hello te sê.
  • Om met asseblief en dankie te wys dat ons ander mense respekteer.
  • Om die goddelike in onsself te ontdek en, deur dit te doen, ons medemense aan te spoor om dieselfde te doen.
  • Om tyd te maak om stil te wees.

Hoor Israel, jou God is een. Ons is een met God, met onsself, met ander en met die skepping. Mag dit só wees. Nou en vir altyd.