Om met Deernis te Leef

Dr. Piet Muller    Ook hier op video

Op ‘n besoek aan Suid-Amerika het ‘n joernalis probeer om die Dalai Lama uit te lok om iets omstrede te sê:

“In Suid-Amerika is die meeste mense Katolieke. Ons glo aan God, aan die Drie-eenheid, dat Jesus die seun van God is en dat hy gesterwe en begrawe is en uit die dood opgestaan het en opgevaar het hemel toe. Waaraan glo jy?”

In Engels met ‘n swaar Tibetaanse aksent het die Dalai Lama geantwoord: “I have a very simple religion. My religion is kindness.”

My religion is kindness...

Slaan ‘n mens die word ”kindness” in die woordeboek na, besef ‘n mens byna met ‘n skok dat Afrikaans maklik ‘n halfdosyn of meer woorde het vir dieselfde begrip. Dink maar aan vriendelikheid, goedheid, goedgeaardheid en goed(aardig)heid; of aan minsaamheid, deernisvol en welwillend.

As ‘n taal sulke woorde het, beteken dit dat sy sprekers die behoefte het of gehad het om sulke gevoelens te kan uitdruk. Maar wanneer laas het jy self een van hierdie woorde gebruik? Ons gebruik dit omtrent nooit meer in die gewone omgangstaal nie. Beteken dit dat ons nie meer ‘n behoefte het hieraan nie? Dat ons kultuur immuun geraak het daarteen?

Maar sê nou net die ongelooflike gebeur en almal wat hulself as Christene beskou of identifiseer as ‘n volgeling of bewonderaar van Jesus, staan een oggend op en besef dat hulle godsdiens nie ‘n godsdiens van belydenisse, dogmas en kategismusse is nie, maar ‘n spirituele lewenswyse vol welwillendheid, goedheid, naasteliefde, deernis en minsaamheid.

Dat dit belangriker is om volgens die voorbeeld van Jesus te lewe as om “reg” te glo en “reg” te bely. Dat ons spiritualiteit nie ‘n ortodoksie is nie (waarin jy geoordeel word aan wat jy glo nie), maar ‘n ortopraksie, waarin jy geken word aan wat jy doen en hoe jy lewe.

As ‘n mens die geskiedenis van die eerste drie eeue na Jesus lees, besef ‘n mens dat sy volgelinge ‘n verskeidenheid dinge geglo het, wat dikwels botsend was, maar dat hulle mekaar herken en erken het aan die manier waarop hulle lewe.

Sommer in vers drie van die Evangelie van Thomas waarsku Jesus al teen mense wat leer dat die koninkryk van God eendag in die hemel sal wees:

“As die wat julle voortgaan vir julle sê dat die Koninkryk in die hemel is, moet julle oppas dat die voëls van die hemel nie voor julle daar is nie. As hulle sê dit is onder die aarde, sal die visse voor julle daar wees. Maar die Koninkryk is in julle en rondom julle. As julle julself ken sal julle geken word en julle sal weet dat julle die kinders van God is. Maar as julle julself nie ken nie leef julle in (geestelike) armoede en julself is die armoede.”

Jesus het deurgaans klem daarop gelê dat ‘n mens in die Koninkryk radikaal anders moet lewe as in die Romeinse Ryk, waar mense uitgebuit, belas en onderdruk word. So lees ons van ‘n slaaf wat drie dae gevas het, sodat hy sy eie karige rantsoen kon skenk aan iemand wat nog minder as hy gehad het.

Tertullianus, een van die kerkvaders van Noord-Afrika, skryf dat anders as ander groepe, Jesus se volgelinge geen geld gevra het vir hul dienste en vir die bywoning van hulle byeenkomste nie, maar dat die “familie van Jesus” vrywillig bydra tot ‘n fonds waaruit wese, wat op straat neergesit is, of op die ashope gelaat is om te sterf, versorg word. Hulle het kos, medisyne en ondersteuning gebied aan gevangenes wat dwangarbeid in myne verrig het. Party het selfs kiste gekoop en grafte gegrawe waarin die armes en kriminele, wie se lyke andersinds buite die stad gegooi sou word om te ontbind, begrawe is.

In keiser Marcus Aurelius se tyd (die middel van die tweede eeu) het ‘n groot pes uitgebreek wat deur die Romeinse Ryk getrek het vanaf Klein-Asië tot aan die Atlantiese kus. Tussen ‘n derde en die helfte van die inwoners van die Romeinse Ryk het in die pes gesterf. Omdat daar geen bekende behandeling vir die siekte was nie, is mense wat siek word meesal net so gelaat, terwyl selfs hulle familie gevlug het. Die wat kon het platteland toe gevlug in die hoop dat hulle die siekte in isolasie sal vryspring. Selfs die keiser se geneesheer, die beroemde medikus Galen, het platteland toe gevlug.

Hy sou later ‘n gloeiende getuigskrif skryf oor die dapperheid van Christene wat in stede agtergebly het om die siekes te help verpleeg.

Die stede van die Romeinse Ryk was vol tempels vir gode soos Isis, Mithras, Jupiter en Artemis. Gode wat soos mense opgetree en verwag het dat hul volgelinge offers moet bring en wyn moet sprinkel en geld aan priesters moet betaal. Daar is algemeen aanvaar dat hierdie gode, net soos mense, bloot uit eiebelang optree en daarom vergoed moet word vir weldade wat hulle aan iemand bewys.

Maar Jode en Christene het ‘n ander motivering gehad.

Hulle het geglo dat God wat die menslike ras geskep het, lief is vir mense en om daardie rede liefde uitlok. Jesus het die opvatting baie duidelik uitgespel: “Jy moet die here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en jou hele verstand en jou naaste soos jouself.” Wat God van mense verwag is om mekaar lief te hê en mekaar te ondersteun.

Hierdie opvatting het die basis gevorm vir ‘n radikaal nuwe sosiale struktuur en die sosioloog Rodney Stark, wat ‘n studie gemaak het van die maatskaplike revolusie wat deur die vroeë Christene veroorsaak is, beveel aan dat ons die volgende paragraaf uit die Evangelie volgens Matteus moet lees asof ons dit vir die heel eerste keer in ons lewe lees, sodat ons kan begryp hoe ‘n radikale lewensverandering onder Jesus se volgelinge plaasgevind het (Matt 25:33-49):

“Ek was honger en jy het my kos gegee, ek was dors en jy het my iets gegee om te drink. Ek was ‘n vreemdeling en jy het my verwelkom, ek was kaal en jy het vir my klere gegee, ek was siek en jy het my versorg; ek was in die tronk en jy het my besoek ... Waarlik ek sê vir jou as jy dit aan die geringste van my broers gedoen het, het jy dit ook vir my gedoen.”

Maar laat ons baie eerlik wees, die wêreld het oor die laaste tweeduisend jaar so verander, dat ons nooit weer sal kan terugkeer na die lewenswyse van die vroeë Christene nie. Hoe kan ons in die een-en-twintigste eeu net so radikaal leef as in die tyd van Jesus? Hoe kan ons in ons eie lewe gestalte gee aan die Koninkryk? Hoe kan ons ons naaste liefhê soos onsself, as ons onsself dikwels nie eens lief kan hê nie?

Hier kan ons ‘n eenvoudige maar uiters belangrike les by die Boeddhisme leer: Om nie ons naaste lief te hê soos onsself nie, maar as onsself.

Kom ons kyk so daarna: Al haat ons soms onsself wil ons nogtans graag gelukkig wees; dit is die geval met alle mense. Almal wil gelukkig wees en vry wees van kommer en sorge. Kweek dus die gewoonte aan om na wie jy ook al kyk, vir jouself te sê daardie person wil net soos ek gelukkig wees en vry wees van kommer en sorge. Dit geld vir sowel die bedelaar wat by die robot staan as vir die man laer af in die straat wat elke jaar ‘n nuwe Duitse motor ry.

Hou op om mense jammer te kry, want jammer kry word so maklik ‘n ego-aktiwiteit. Maar as jy iemand anders se hoop en drome met jou eie vergelyk, skakel jy die ego uit en is julle albei op dieselfde vlak. Dit laat jou selfs toe om te besef dat ryk en arm dieselfde aanspraak op jou welwillendheid en deernis kan maak.

Ek het eenmaal gelees van ‘n Britse dokumentêre rolprentmaker wat aan die Dalai Lama gevra het waarom Indië se arm mense so maklik lag en vrolik is, terwyl die rykes wat hy teengekom het kwalik glimlag? Waarop die Dalai Lama geantwoord het: “Het jy al gedink aan hoeveel probleme ryk mense het?”

Probeer hierdie oefening gerus net vir ‘n week: As jy iemand teenkom, selfs een wat jou leed aandoen of irriteer, sê vir jouself: “Hierdie mens wil net soos ek gelukkig wees en vry van kommer en sorge.”

So sal jy sien hoe jou opvattings oor mense verander.

As jy na ‘n week gemaklik is met hierdie oefening, kan jy dit opvolg met die besluit om net vir vandag niemand te oordeel of van iemand sleg te praat nie.

As jy langer met hierdie twee oefeninge volhou besef jy later dat alle wesens gelukkig wil wees en vry van kommer en sorge en dat selfs die ekologie ‘n heiligheid en ‘n waardigheid het wat ons nie durf skend nie.

Soos die sewende eeuse Indiese mistikus Shantidewa eenmaal gesê het:

“Soos al my ledemate deel is van een liggaam, net so is alle lewende wesens deel van een lewe.”

Uiteindelik besef ‘n mens dat die Bron van my eie lewe ook die Bron is van alle ander lewe.

Watter revolusie kan hierdie besef nie in ‘n mens se lewe veroorsaak nie. En hoeveel hoop kan dit nie bring vir ‘n planeet wat skynbaar planloos op sy eie vernietiging afstuur nie.

Sit net ‘n oomblik stil en dink daaraan dat wat jy persoonlik glo en dink bepaal wat jy doen en dat dit enorme gevolge het vir ons planeet en alle lewe daarop. As jy vrede en genesing begeer, moet jy self in jou eie lewe daardie vrede en genesing wees.