Teoloog Philip Liebenberg  (Johannesburg)

.

Philip Liebenberg is op 12 Junie 1962 in Bloemfontein gebore.

Sy pa was ‘n man van vele neringe en het ‘n wanderlust gehad wat sy gesin aan elke moontlike streek in Suid-Afrika blootgestel het. Philip se skoolloopbaan neem hom deur ‘n hele paar skole; van Petrusburg in die Vrystaat, Grey Kollege op Bloemfontein, Teebus in die Karoo, Randburg, Springbok in Namakwaland, tot by Hoërskool Dr. Malan op Meyerton.

Hy studeer aan die UOVS en daarna aan die AGS Teologiese Seminarium in Auckland Park, Johannesburg.
In 1984 trou hy en word in 1986 pa van ‘n dogter.

In 1988 word hy die pastoor van die AGS gemeente op Bapsfontein en in 1995 aanvaar hy ‘n beroep na die AGS in Riebeeckstad by Welkom. Daar het hy in 1995 begin droom oor ‘n bediening aan kunstiges en vrysiele in Melville.

In 1995 stig hy toe ‘n gemeente in Melville, Johannesburg. Vyf-en-twintig jaar later is hy tans steeds ‘n gelukkige Melville-inwoner.

Philip is die outeur van Daar’s ‘n Gay Pastoor in my Kop, wat in 2008 deur Penguin uitgegee is, asook Aikôna Moses! Mag ek van die Bybel verskil, wat in 2014 as e-boek deur Boekemakranka uitgegee is.

Sy derde manuskrip, 27 Ancient Superstitions in our Modern Faith, is deur Naledi aanvaar en sal in April 2020 op die rakke wees.

Sedert 2017 fasiliteer Philip die gespreksgroep, Candid Conversations. Hierdie groep bestaan uit lede van die oorspronklike gemeente in Melville wat saam met Philip nou op ‘n nuwe wyse na die Bybel as antieke literatuur kyk.
Philip is ook ‘n huweliksbevestiger.

Philip deel sy lewe met Johan Swart, sy lewensmaat. Hy het ook ‘n vyfjarige kleinseun wat ongelukkig in Maart 2020 in Londen gaan woon omdat sy skoonseun daar ‘n pos gekry het.